LUKRAAKETAAR is Pierre, Alwyn en 'n hele paar sielvolle woorde. Beskryf dit as akoesties met skop!
LUKRAAK beteken toeval, geluk, na willlekeur en KETAAR is 'n woordspeling op ‘kitaar en kommentaar.’ Die oorspronlike, vreemde ritmes, unieke klank en opgesluite eerlikheid in hulle musiek klassifiseer hulle as passievol met 'n vars ‘andersgeit.’ Lukraaketaar vra vrae maar gee nie noodwendig antwoorde nie. Hierdie ouens sê wat in hulle koppe aangaan en gooi nie sinnelose woorde en idees rond nie, maar leef elke oomblik wat deur hulle are na ander se ore vloei.
Alwyn Kotzé het grootgeword in Stellenbosch en is tans 'n finale jaar drama student. Hy hou van Tequila en lang rustige staptogte op die strand.Hy maak ook heerlike cocktails. Pierre Greeff het in Bellville groter geraak as wat hy was en hou van gholf, mooi liedere en bier. Toe hulle mekaar op Stellenbosch leer ken was dit die begin van LUKRAAKETAAR. Die twee vriende ken mekaar al meer as vier jaar en het nog altyd ‘n passie vir musiek gedeel. Hulle skryf meestal saam aan hulle liedjies en musiek en hoop dat hulle eerste 7 snit EP: Fop Genade mense se lewens op een of ander manier positief sal beiinvloed.
PS: Pierre is lank en Alwyn minder. Pierre sing effe laag en Alwyn nogal hoog en o ja, Pierre speel die Beer en Alwyn die Bewer.