| Church Name: |
Canada Water Kerk |
| Location: |
Londen, Vernigde Koningkryk |
| Services/Products: |
Gereformeerde Kerk, Church |
| Contact Number: |
+44 (0) 208 491 2850 |
|
Website:
|
 |
Ons is kerk
Die woord 'kerk' is afgelei van die Griekse woord wat beteken 'die wat aan God te behoort'. Deur Jesus Christus se dood aan die kruis het God mense van alle tale, volke en nasies los gekoop uit die dood om aan Hom behoort. As sy eiendom is dit nou ons doel om Hom te aanbid en om sy teenwoordigheid te geniet.
Ons is 'n gemeenskap
Ons behoort nie net aan God nie, maar ons behoort ook aan mekaar. As jy glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Koning is wil ons jou verwelkom as ons broer en suster. As mekaar se familie is dit nou ons doel om mekaar te help om te groei in ons verhouding met Hom en met mekaar.
Ons is 'n gemeenskap vir die gemeenskap
As God se gemeenskap is ons ook geroep om 'n verskil te maak op die plek waar ons bly. Daar is net een manier vir ons kerk om dit te doen en dit is deur die Evangelie te verkondig en uit te leef tussen die mense van Canada Water en Londen.
Hier is 'n opsomming van wat ons glo:
Ons glo dat die Bybel die Woord van God is waarin Hy vir ons alles bekend maak wat ons nodig het om ewig by Hom te wees. Om die rede is die Bybel die bron van alles wat ons glo en doen.
Ons glo dat die Drie Enige God heilig en genadig is.
Ons glo dat alle mense van nature sondaars is en daarom die Heilige God se straf op sonde, naamlik die ewige dood verdien. Maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons sal onsself nooit kan red nie en daarom is ons totaal en al van God se genade afhanklik.
Ons glo dat die Heilige God ondanks mense se sonde nogtans kies om sekere mense te verlos omdat Hy genadig is. Hierdie verlossing is totaal en al onafhanklik van wat 'n mens doen, wie hy is of enige ander meriete wat hy self mag hê.
Ons glo dat Jesus Christus God se verlossingsplan is. Jesus Christus is die ewige Seun van God wat namens ons aan God se heilige vereiste voldoen het deur 'n sondelose lewe te lei. Nie net dit nie, Jesus het ook in ons plek die straf op ons sonde gedra deur as 'n vervloekde aan die kruis te sterf.
Ons glo dat mense alleen van die Heilige God se oordeel gered word deur in Jesus Christus as hulle Verlosser te glo. Hierdie geloof is 'n geskenk van God en word nie net aan individue gegee nie, maar volgens God se verbondsbeloftes ook aan die kinders van gelowiges.
Ons glo dat die Heilige Gees in God se mense woon en hulle instaat stel om op Christus te vertrou en om Hom te volg.
Ons glo dat wanneer mense tot 'n ware geloof in Jesus Christus gekom het, hulle nooit weer verlore kan gaan nie. Gelowiges sal tot die einde toe in geloof volhard deur God se krag en die werking van sy Heilige Gees.
Ons glo dat die kerk die verbondsgemeenskap van God is waar sy genade vrylik beskikbaar is vir almal deur die prediking van sy Woord en die bediening van die sakramente van die doop en die nagmaal.
Ons glo dat Jesus Christus op die laaste dag liggaamlik en sigbaar sal verskyn om die hele mensdom van alle tye te oordeel en om sy eiendom finaal na Hom toe te neem.
Ons glo dat dit die doel van ons lewens is om tot eer van God te leef deur in alles aan ons Here en Koning, Jesus Christus gehoorsaam te wees. Daarom fokus ons daarop om God te aanbid, ons mede-gelowiges te ondersteun en na die wêreld toe uit te reik met die Evangelie.
Ons geloof word ook verder meer volledig verwoord in die volgende belydenisskrifte:
- Die Heidelbergse Kategismus
- Nederlandse Geloofsbelydenis
- Die Dordtse leerreëls
- Westminster Confession of Faith
|